Uitvoerende Burgermeester van die ZF Mgcawu Distrik;
Burgermeester en Speaker van Kai Garib Munisipaliteit;
Provinsiale Kommisaris van die SAPS;
Politieke Leiers;
Amptenare van verskillende regerings departemente;
Geestelike Leiers;
Lede van die media;
Gemeenskap van Kakamas;
Dames en Here;
Program Direkteur;
Dit is vir my inderdaad ‘n groot voorreg om vandag Veiligheidsmaand hier in Kakamas te loods onder die tema, “Vestig ‘n veiliger omgewing vir ons kinders”. Die Noord-Kaap Provinsiale Regering het belowe om ‘n veldtog te loods wat spesifiek daarop gemik sal wees om ‘n veiliger omgewing vir ons kinders en gemeenskap daar te stel. Hierdeur wil ons verseker dat ‘n soortgelyke voorvalle waarin die vyf van ons kinders, Adrian Majiedt, Jamiem Majiedt, Annastacia Majiedt, Elzaan Johnson en Elrich Johnson oorlede is, nooit weer sal herhaal in ons gemeenskappe nie.
Die regerings veldtog sal daarop fokus om saam met die gemeenskap te werk om alle ou toestelle, byvoorbeeld yskasse, stowe of enige iets wat dalk ‘n gevaar kan inhou vir ons kinders kan inhou, verwyder sal word om sodoende ‘n veiliger omgewing vir ons kinders te vestig.
Veiligheid is nie ‘n kwessie wat die regering alleen kan aanspreek nie. Ons het u as die gemeenskap nodig om saam met ons te werk om veiliger huise, veiliger skole en veiliger gemeenskappe te verseker.
Ons het u nodig om aan te sluit by u gemeenskap polisiering forum (GPF) en deel te neem aan misdaad voorkomings programme om sodoende die gemeenskap te mobiliseer om teen geweld op te tree.
Die samewerking tussen die gemeenskap en SAPS kan nie genoeg beklemtoon word. Die SAPS het u nodig om hul oë en ore te wees, en onmiddelik geweld en misdaad aan hul te rapporteer sodat daar opgetree kan word.
Dames en Here
Daar is geen plek vir kriminele elemente in ons samelewing. Ons weet wie die persone is wat onwettig drank en dwelms verkoop, ons kinders gebruik as “runners” om dwelms te verkoop asook diegene wat gesteelde goedere verkoop. Dit het tyd geword dat ons gemeenskappe standpunt inneem en se genoeg is genoeg.
Ons het u ook nodig om as padverbruikers, om ten alle tye die wette op ons paaie te gehoorsaam. Daagliks verloor ons lewens op ons paaie deur een of ander wet wat oortree was. Een lewe, is een lewe te veel. Ek moet u waarsku dat ons wetstoepassers sal sigbaar wees en optree teen diegene wat dink hulle is bo die Wet.
Kom ons werk saam en wees padveiligheids ambassadeure deur:
- Spoedgrense te gehoorsaam
- Veiligsgordel te dra
- Geen distraksies te gebruik, bv selfone
- Altyd sigbaar te wees
- Nie te bestuur onder die invloed van alkohol
Ouers, onthou dat ons kinders opkyk na julle as hul rolmodelle. Soos die Engelsman sê, “You must lead by example”. Kinders is kosbare geskenke wat ons ontvang van ons Hemelse Vader. Dit is ons plig om na hulle om te sien, hul veilig te hou, te ondersteun in alles was hulle doen en vir hulle sekuriteit te verseker.
Dit is ook u plig om hul op te voed en bewus te maak van veiligheidswenke oor dinge wat hulle mag doen, en nie mag doen nie (pamflette). Ons werk as ouers hou op as ons kinders uit die huis is en selfstandig genoeg is om na hulself om te sien.
Ter afsluiting, Ek hoop dat hierdie program u as ouers sal inspireer om saam met ons te werk as die Regering om veiliger gemeenskappe te vestig. Geweld en misdaad affekteer elkeen van ons. Kom ons werk saam om te verseker dat ons ‘n omgewing skep waar almal veilig voel en veilig is.
Baie dankie.